Charles Theunissen skryf:
Daar is nog baie onvertelde stories onder ons gemeenskappe wat iewers tussen ou boeke wat besig is om stof op te gaar, weggepak is.
Dis juis baie van hierdie soort stories wat ons soms laat lag of 'n traan afvee wanneer ons die mooi herinneringe van sekere gebeure of karakters herleef.
Tarka, die oudste Mosselbaai-woonbuurt vir die bruin gemeenskap, het vele stories, en nes enige ander gemeenskap het hy ook sy eie karakters gehad, eie aan die gebied. Wie onthou nog die gewilde Star Choir van Tarka wat oor die Kerstydperk met Kersliedere vermaak het? George Levendal, boorling van hier en seun van die bekende ouma Rosie Levendal, het in 1995 'n terugblik gegee oor Tarka in 'n skrywe vanaf Kaapstad. Hier is 'n uittreksel daarvan soos dit in my boek, Die kinders van Tarka en elders, verskyn:
"Die mense van Tarka (Garden Hill), circa 1930.
Ons begin met die vermaerde rotshengelaars, die oupa, sy seun, ou Pil, en kleinseun, Stoffel van Rensburg. Hulle huisie was op die kop bokant Bo-kraletjie. Hulle het visse uitgehaal waar dit amper onmoontlik was. Die visse, vernaamlik galjoene, was by mense in Tarka verkwansel.
Mr Mannel (afgetrede polisiekorporaal), die veldwagter, het aan die ander kant van die kop gesit met sy Brushwood-permitboekie. Jy moes 'n tiekiepermit het om 'n drag hout in die veld te gaan haal.
Mnr. 'Dik' Thomas Abrahams het by Mr Cochraine in Crookstraat die wawiele se ysterbande opgesit en perde se hoewe beslaan. Ons het geglo dat hy die sterkste man in Tarka was met sy groot lyf en sterk arms.
Oom Andries Levendal en oom Hans Valentyn, die drywers van die spoorweë se muilewaens, kon daardie uitgemesselde muile op 'n tiekie laat draai.
Die beste seilskipkaptein was Jan (Boompies) Hofmeyer. Sy boot het altyd vol vis en veilig land toe gekom, ongeag die weer.
Die eerste Ford-lorrie van die Mosselbaai-munisipaliteit was bestuur deur oom Hendrik Levendal. Voor dit het Mnr. Jackson met 'n perdewa die vervoerwerk gedoen.
Die ambagsmanne het hoofsaaklik uit die volgende bestaan: Oom Robert Jefferey en sy seun het onder andere aan die Rooms-Katolieke kerk in die dorp gewerk, Giddy's Park en Mr Giddy se tuin verfraai met bouwerk. Ander bouers was Daniel Valentyn, Sias Petersen, Piet Petersen, Klaas Moolman, Jakob Heinie en talle andere.
Tarka se huise was van klip, wat soms sommer uit dieselfde perseel gebreek was. Die tamaai rotse was oopgegrawe. Saans word takke, bosse en ander brandstof bo op dié gebrand. Wanneer hulle in die nag afkoel, bars hulle en word dan verder verwerk, 'gedress' vir die bouers. Klei en sand was in plaas van sement gebruik.
Gissie Valentyn en Joe Cupido het jaarliks gesorg vir die klopse. Ons kinders het dan sommer vir die lekkerte gedans. 'Die tekkie kom so sing-sing, maar Flippie weet die hele ding' het mense gesing toe Flippie Jantjies die polisie ontduik het, dat dit later 'n grap was…"