Inwoner meen belastinggeld is gemors

Jannie Slabber skryf:

Beach Maintenance (munisipaliteit) noem in 'n skrywe dat mense wat 'n probleem het met wat op die kuslyn gebeur, dit na wetstoepassing moet deurgee. Nou ons as die inwoners van Beacon Point en ek glo Beacon Warf, is nou moeg daarvan om wetstoepassing 100 maal te skakel net om geen reaksie te ontvang nie. 

Die bord op hierdie foto wat opgerig is met belastingbetalers se geld, is myns insiens gemors, want niemand steur hul in elk geval daaraan nie. Elke naweek word die paadjie voor Beacon Point bemors met vullis, daar word drank gebruik, fietsgery en geraas. 

Vure word gemaak, ongure karakters slaap daar en jong kinders gebruik dwelms daar. Beskermde spesies soos die witdoodshaai, stingrays, ens. word gevang deur drones of kano's met vislyne die baai in te stuur ongeag dolfyne wat daar wei. 

Eienaars van eiendom word gevloek as hulle kla oor die geraas. Wat betref wetstoepassing, kan jy maar bel, maar oor 'n naweek is hulle toe en die polisie sê hulle het ander werk.

Nou is my vraag: waar is die sogenaamde 'Iconic' Point wat as een van Mosselbaai se toeristeattraksies voorgehou word? Moet ons nou maar die verval gelate aanvaar? Wie is veronderstel om hierdie wetsongehoorsaamheid aan te spreek? 

Word mense beboet, of is die borde maar net vir die eyeblind daar? Daar is 'n muur met grasperk vir duisende belastinggeld gebou om nou 'n bymekaarkomplek vir brassery en geraas te word.

Mosselbaai-munisipaliteit reageer:

'n Terreinbesoek is vroeër vanjaar deur senior munisipale bestuurslede onderneem, waartydens daar regstreeks met verteenwoordigers van die Beacon Point-gemeenskap geskakel is oor die toestand van die looppad en gepaardgaande veiligheidskwessies.

Die looppad word tans deurlopend deur munisipale kontrakteurs skoongemaak om basiese instandhouding te verseker. Die munisipaliteit is bewus daarvan dat verdere herstelwerk nodig is, en die kwessie is onder oorweging vir toekomstige beplanning.

Intussen word die gebied gereeld deur wetstoepassing gepatrolleer. Hoewel daar tans geen onlangse klagtes op die munisipale stelsel aangeteken is nie, neem die munisipaliteit kennis van insette uit die gemeenskap.

Lede van die publiek word aangemoedig om enige insidente by die operasionele sentrum aan te meld deur die direkte lyn, 044 606 5204, te gebruik, sodat dit spoedig opgevolg kan word.