Gemeenskap gaan gebukkend onder euwel van dwelms

Besorgde inwoner van Mosselbaai skryf:

Dwelmmisbruik neem drasties toe onder ons jongmense.

Dit is skrikwekkend hoe dwelmverwante voorvalle in sekere woonbuurte hoogty vier. Inbrake, roof en moord is aan die orde van die dag. Die koop van duursame gesteelde items by dwelmverslaafdes dra nog verder by tot die verval van morele standaarde in ons gemeenskappe!

Tieners nog op skool tree somtyds as runners op om die shipments (dwelms) by hul bestemming te kry. Die einste runners is in die meeste gevalle ook betrokke by die verkope van die dwelms. Die baasbrein bly op die agtergrond en ontvang net die geld.

Die misbruik van dwelms laat somtyds permanente skade binne sommige families en veroorsaak in baie gevalle 'n ketting-reaksie in gemeenskappe!

Die vraag is egter: Hoe kan dit voorkom word? So baie is al gedoen om die euwel van dwelms te bestry, maar steeds gaan die gemeenskappe nog onder hierdie voort-slepende probleem gebuk.

Baie van die jeug is vasgevang in hierdie euwel wat niks goeds vir hul toekoms voorspel nie. Dis die einste jeug wat veron-derstel is om die leiers van die toekoms te wees, maar hulle verkies om deel van 'n kringloop te wees wat hul stroop van hul menswaardigheid. Daagliks boet onskuldige mense met hul lewens as gevolg van hierdie euwel.

Hoe lank gaan dit nog aanhou? Wetstoepassers, kerke, skole, die plaaslike regering en gemeenskapsorganisasies moet teen hierdie euwel wat 'n duistere toekoms vir ons gemeenskappe inhou, verenig!