SUID-KAAP NUUS - Louis Visser is terug in Oudtshoorn na 'n strawwe drie maande se fietsry in Europa.
Visser, een van Eden se bekendste en mees suksesvolste padfietsryers, is in die begin van die jaar gekies as een van ses Afrika-ryers om vir Dimension Data Continental se Qhubeka-voedingspan in Lucca, Italië, te vestig om aan fietsrenne in Europa deel te neem.
Op Sondag 1 Oktober het Visser by die wegspringpunt van die
104 km Timbercity Cycle Tour op Oudtshoorn aangetree en dié fietsren gemaklik gewen.
Na afloop van die fietsren het hy aan die Oudtshoorn Courant gesê: "Ek was van April tot Junie in Italië. Weens omstandighede buite my en my span se beheer, kon ek nie weer terugkeer Italië toe nie. Ek het egter voortgegaan met my oefenprogram."
Hy vertel dat die fietsryseisoen in Europa nou tot 'n einde kom. Die res van sy span, Hafetab Weldu (Ethiopiese-kampioen), Gethachow Astbha, Joseph Areruya, Samuel Mugisha en El Mehdi Chokri, sal ook nou terugkeer Afrika toe.
"Sodra die span terug is sal die wedrenne bespreek word waaraan ons gaan deelneem. Die voorbereiding begin reeds nou vir volgende jaar se seisoen. Ek kyk na die langtermyn en om die volgende seisoen goed voorbereid in te gaan.
Wat die res van die jaar betref is die Telkom 947-fietsren wat in Johannesburg plaasvind op
19 November moontlik 'n wedren waaraan ek gaan deelneem."
Visser sê sedert hy terug is, was die Timbercity Cycle Tour die eerste ren waaraan hy deelgeneem het.
"Die gevoel was goed. Dit was lekker om te sien wat my fiksheidsvlak nou is en hoe ek onder druk voel. Die wedrenne in Europa en veral Italië is baie langer afstande en die intensiteit is baie hoog. Om nie eers te praat van die standaard van die ryers, wat almal van hoogstaande gehalte is nie.
"Dit was lekker om in my tuisdorp te wen en om die podium met Anriette Schoeman, die vrouewenner te kon deel. Sy is 'n legende in vrouefietsry in Suid-Afrika. Dankie vir Eden-fietsry en Timbercity dat so 'n fietsren op Oudtshoorn kon plaasvind. Sonder sulke fietsrenne sou ek nie kon groei in my vroeë jare nie."
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Suid-Kaap nuus'