Die slagoffer het telefonies met die Mossel Bay Advertiser gesels, maar was steeds te getraumatiseerd om in detail oor die voorval te praat.
Sy het Vrydagmiddag om ongeveer 14:30 op die strand tussen Klein-Brakrivier en Hartenbos gaan stap toe sy deur 'n man oorval en verkrag is. Die vrou het na die voorval 'n geliefde gebel wat haar te hulp gesnel het.
Sy is in die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal vir haar beserings behandel. Intussen het ondersoekbeamptes van die Mosselbaai Gesinsgeweld en Seksuele Misdrywe Eenheid 'n 30-jarige verdagte naby Powertown, Klein-Brakrivier ondervra en kort daarna gearresteer op aanklag van verkragting.
Die woordvoerder van die Da Gamaskop SAPD, kapt Wollie Fourie, doen 'n beroep op inwoners om nie alleen op die strand te stap nie.
"Moet ook nie alleen op die treinspoor in die gebied tussen Hartenbos en Klein-Brakrivier stap nie. Dit bly 'n risiko."
Die verdagte, wie se identiteit ingevolge mediawetgewing nie genoem kan word tot hy in die Hof gepleit het nie, is teen druktyd in 'n uitkenningsparade gewees om te bepaal of dit moontlik wel die man is wat die slagoffer aangeval het.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Teen druktyd het lede van die Mosselbaai Gesinsgeweld en Seksuele Misdrywe Eenheid 'n 30-jarige verdagte in verband met die beweerde verkragting gearresteer.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'