Die slagoffer, Lunell Honiball, het die aanval op haar, wat bykans twee ure geduur het, oorleef. Sy is met verskeie kopbeserings in die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal opgeneem, nadat twee mans haar herhaaldelik met 'n snoeiskêr en ander voorwerpe aangerand het. Honiball is intussen ontslaan. Sy het ingestem om 'n onderhoud te voer met die Mossel Bay Advertiser, kort nadat sy uit die hospitaal ontslaan is:
"Ek het radio geluister 23:00 Vrydagnag. Ek luister elke aand daardie tyd nuus. My vier klein hondjies het skielik opgevlieg en by die voordeur gestaan en grom. Hulle hare het penorent gestaan. Ek het die radio afgesit en die deur op 'n skrefie oopgemaak om die honde uit te laat. Hulle het buite gestaan en grom.
"Ek het besef daar moet iemand buite wees en het die honde terug geroep en die deur gesluit. Ek het na my selfoon gestap om my bure te bel toe ek 'n krapgeluid aan die deur hoor. Dit was volmaan buite en ek kon duidelik deur die venster sien hoe 'n persoon gebukkend by die deur hurk. Ek het geskree en die man het opgespring en weggehardloop."
Deur uit sy kosyn geskop
"Ek het die selfoonnommer van my buurvrou op die selfoon gesoek toe die deur die volgende oomblik uit sy kosyn geskop word. Daar was stof oral. My hondjies het verstar, asof hulle met iets giftig gespuit is en hulle nekke het agtertoe getrek. Ek vermoed hulle is met ‘n middel vergif.
"Twee mans het ingestorm en die honde aan hulle nekke gegryp en in 'n kamer gegooi, die deur toegemaak. Hulle het my na 'n ander kamer gevat, en beide het my gelyk tegelyk begin gewurg.
"Hulle het in Afrikaans en Engels gevra waar my geld is. Ek het die oggend my pensioen gekry en bykans al die geld op kruideniersware vir die maand spandeer. Ek het aanhoudend gesê ek het nie geld nie. Hulle het die hele huis omgegooi en gedreig om my te verkrag.
"Op 'n stadium het die een man my snoeiskêr op die tafel sien lê. Hy het daarna gegryp en my onophoudelik daarmee begin steek en sny – oor my hele lyf. Ek het erg gebloei en besef ek gaan nie veel langer kan uithou nie. Erens gedurende die aanval het ek teen 'n kas geleun sodat my bene nie onder my knak nie."
Verdagte gryp na speelding
"Ek het geweet as my bene eers knak sal ek nie weer kan opstaan nie. Dis toe wat een van die mans op 'n speelgoed geweer wat ek in my huis hou, afkom. Dit lyk na 'n regtig wapen, maar is van plastiek gemaak.
"Hy het dit gegryp en dit teen my bors gedruk. Hy het die sneller getrek - 'n klomp keer. Dit het kliek-kliek-kliek gemaak. Hy het verbaas na die speelding gekyk en gevra: 'hoekom gaan dit nie af nie? Waar's die bullets?'. "Hy het besef dis net 'n speelding en het my daarmee teen my kop begin slaan tot die hele geweertjie versplinter het. Die ander een het 'n emmer op die kombuistafel, waarin melk vir die hondjies gestaan het, gegryp en die emmer op my kop begin stukkend slaan.
"My lewe lank al bid ek vir die Here dat hy my krag moet gee, vyf minute se Simson-krag as so iets ooit met my gebeur. Die Here het my dié aand twee uur se krag gegee. Ek het gebid dat hulle moet weggaan en die volgende oomblik het een van hulle vir 'n geluid buite geskrik.
"Hulle het onder meer my selfone gegryp en weggehardloop. Toe ek na buite die huis strompel om hulp te gaan kry, was een van hulle nog in die tuin. Ek het net geweet ek moet wegkom en het begin beweeg, teen die bult op na waar my buurman, Wynand Oosthuizen woon.
"Ek was heeltyd bang dat hulle agter my is - my weer gaan kry. Ek het probeer skree, maar daar het net 'n roggel-geluid uitkom. My keel was seer na die wurg.
"Toe ek by Wynand se huis kom het ek aan sy venster gehammer. Hy en sy vrou het die gordyne weggetrek en geskok na my gekyk. Bloed het oral van my af gestroom, maar ek het geweet ek is uiteindelik veilig."
Glo eerste plaasaanval in die distrik
"Sy het gelyk soos iets uit 'n Dracula-fliek," vertel Wynand Oosthuizen, die eienaar van die plaas Tierkloof, "Daar was oral bloed. Ons het die polisie gebel en vir haar suikerwater gegee. Dit is die eerste plaasaanval in die distrik. Ons is nou nog geskok oor wat gebeur het."
Intussen het die Kwanonqaba SAPD 'n 17-jarige en 18-jarige verdagte in hegtenis geneem. Van die slagoffer se gesteelde goedere is in hul besit gevind. Die mans bly in aanhouding en verskyn op 20 November in die Mosselbaai Landdroshof vir 'n borgaansoek.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Lunell Honiball het in hierdie huis op mnr. Wynand Oosthuizen se plaas, Tierkloof gewoon. Sy is hier aangeval.

Lunell Honiball kort na die aanvalin die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal.
Lunell Honiball sterk tans by haar seun se huis aan. Foto: Louise Mouton
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'