Volgens 'n plaaslike veearts in Hartenbos, dr Frans de Graaff, het inwoners op 21 Junie die eerste beseerde flamink na sy praktyk gebring.
"Daar was glo honde op die strand wat die voëls gejaag het. Albei die flamink se bene en een vlerk was gebreek en ek moes genadedood toepas."
Behalwe vir nog 'n dooie flamink wat op die strand gelê het, moes De Graaff die vlerk van 'n ander een verlede week amputeer.
"Die flamink sterk tans aan en het self begin eet, maar sal nooit weer in die natuur vrygelaat kan word nie. Nog 'n flamink is dood op die strand aangetref en daar staan tans 'n flamink met 'n hangvlerk in die ri-viermond. Dit lyk of hy wel nog kan vlieg en ons sal hom nie gevang kry nie."
De Graaff sê vanuit die aard van die beserings is hy seker dis honde wat die flaminke aangeval het. "Ek is ten gunste van honde op strande, maar dan moet hulle aan leibande gehou word. Inwoners moet sorg dat hul honde nie uit erwe kom nie. Ons tel die voëls by die rivier en dit was goed om te weet hulle vermeerder, maar nou lyk dit of hulle uitgedun word."
Volgens Carol Walton, die eienaar van SAPREC Penguin Rehabilitation Centre in Mosselbaai, moet honde op strande verbied word. "Hulle rig meer skade aan as enigiets anders. Hierdie flaminke het al die besker-ming nodig wat hulle kan kry."
Twee studente interns van Oyster
Bay Conservation Trust, Sarel Serfontein en Nicky Willmers, het verlede week gehelp om die een beseerde flamink te vang.
Volgens Aiden Beck, die bewa-ringsbestuurder van Oyster Bay Conservation Trust, is die flaminke 'n unieke gesig wat beskerm moet word. "Wat nou besig is om te gebeur, het 'n groot negatiewe impak op die ekotoerisme van ons dorp. ATKV-toeriste kom juis hierheen om die strand en die rivier te geniet en die teenwoordigheid van die voëls dui op die goeie waterkwaliteit. Daardie area behoort buite perke vir honde te wees."
Beck sê 'n swerm voëls wat bedreig word, soos in dié geval, sal waarskynlik nie weer na dieselfde area terugkeer nie.
Honde op strande-studie
Mossel Bay Environmental Partnership (MEP) het in Mei 'n projek geloods om te toets of 'honde-vriendelike' strande in Mosselbaai sal werk.
Die publiek se opinie is getoets deur middel van 'n vraelys. MEP het verskeie strande rondom Mosselbaai ondersoek en ook gekyk na hul omgewings- of ekologiese sensitiwiteit. Daarna is 'n verslag met aanbevelings aan die munisipaliteit oorhandig.
Volgens munisipale woordvoer Harry Hill, beplan die munisipale bestuur om die aanbevelings van MEP en hul kommentaar teen die einde van Augustus by die maandelikse Raadsvergadering voor te lê.

Dr Frans de Graaff opereer 'n flamink met twee gebreekte vlerke. Hy moes die een vlerk amputeer en die flamink sal nooit weer in die natuur vrygelaat kan word nie.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'