Volgens die skoolhoof, mnr Nicolas Gertse, het die meisie ongeveer 50m van die skoolhek die pad oorgesteek toe sy deur ‘n bakkie raakgery is.
“Die nooddienste was vinnig op die toneel. Volgens my inligting is die leerder in ‘n stabiele toesig. Sy is na ‘n plaaslike hospitaal afgevoer,” sê mnr Gertse.
Volgens Gertse is die besige pad voor die skool vir hom ‘n groot bekommernis.
“Hier ry swaarvoertuie en taxi’s. Die pad is baie besig. Alhoewel daar twee ingange na die skool is, het slegs die een ingang ‘n voetoorgang met zebrastrepe.”
Volgens Gertse het hy reeds etlike maande gelede navraag by die Mosselbaai Munisipaliteit gedoen om nog ‘n voetoorgang met zebrastrepe by die ander ingang, die einste een waar die leerder raakgery is, aan te bring.
“Padborde is aangebring wat aandui dat kinders die pad oorsteek maar ons wag nog op ‘n voetoorgang.”