Polisie se werksomstandighede 'onveilig'

Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het 'n amptelike skrywe aan die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, minister Dan Plato, oorhandig waarin die benarde situasie waaronder polisielede van die KwaNonqaba-polisiestasie moet werk, toegelig word. Foto: Nickey le Roux

MOSSELBAAI NUUS - Die werksomstandighede waaronder polisielede by die KwaNonqaba-polisiestasie daagliks moet werk, is deur die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, minister Dan Plato, beskryf as só benard dat die munisipaliteit tereg dit as onveilig sou kon verklaar.
 
Minister Plato het Mosselbaai op Maandag, 20 Maart besoek om erkenning en akkreditasie te gee aan drie van die aktiewe buurtwagte in die dorp.
 
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, en sy uitvoerende burgemeesterskomitee asook die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het die geleentheid gebruik om met die minister te vergader om die probleme by die KwaNonqaba-polisiestasie, wat oor jare herhaaldelik mediadekking geniet het, weer eens toe te lig.
 
"Ons spreek hierdie probleme aan. Ek het vanuit die burgemeester se kantoor met 'n baie senior lid van die generale staf in Pretoria geskakel om die probleem tot op die hoogste vlak te rapporteer," het minister Plato benadruk.
Die minister het bevestig dat die burgemeester veiligheidskwessies in Mosselbaai baie hoog geprioritiseer het.
 
"Daar is grond beskikbaar gemaak vir 'n nuwe polisiestasie, die burgemeester het bevestig dat hierdie grond steeds beskikbaar is. My kantoor sal hierdie week dringende aandag aan hierdie probleem gee," aldus minister Plato.
Burgemeester Levendal het 'n formele skrywe oor die omstandighede waaronder polisielede by die KwaNonqaba-polisie moet werk, aan minister Plato oorhandig met die hoop dat die probleme dringende aandag sal geniet.
 
Die minister het Burgemeester Levendal bedank vir die klem wat onder sy leiding aan gemeenskapsveiligheid gegee word.
 
Burgemeester Levendal het benadruk dat hy 'n vyf-jaar plan opgestel het vir gemeenskapsveiligheid en dat die munisipale bestuurder, adv Giliomee, toegesien het dat dié plan vergestalting kry in die geïntegreerde ontwikkelingsplan.
 
"As ons in die verlede nie genoegsame klem om gemeenskapsveiligheid gelê het nie, vergewe ons. Voortaan sal veiligheid van al ons gemeenskappe baie sterker klem by die munisipaliteit kry," het die burgemeester bygevoeg. Minister Plato het in die onlangse verlede besoek by die polisiestasie afgelê.
 
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR 
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus' 


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser