MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Wyk 9, D'Almeida soek dringend bekostigbare behuising vir diegene wat verplig word om in agterplase te woon omdat daar eenvoudig geen ander behuising vir hulle beskikbaar is nie, asook werksgeleenthede vir die jongmense van die area.
Dit, asook ander diensleweringskwessies is tydens 'n geherskeduleerde geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vergadering op Maandagaand, 18 September in detail deur die gemeenskap benadruk.
Heelwat inwoners is deur die wyksraadslid vir Wyk 9, Erica Meyer, die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en lede van sy burgemeesterskomitee, die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en munisipale direkteure tydens die openbare vergadering te woord gestaan.
Behuising
Herhaaldelik het sprekers hulle sterk uitgespreek oor die gebrek aan bekostigbare behuising. Sommige sprekers sê dat hulle weens die onbeskikbaarheid van bekostigbare alternatiewe noodwendig agterplaasbewoners moet bly.
Die munisipaliteit het in detail verduidelik dat die behuisingsopsies wat vir die Louis Fourie-korridor beplan word, ruim voorsiening sal maak vir verskeie behuisingstipes. Na verwagting sal bouwerk aan hierdie projek teen Januarie 2019 'n aanvang neem.
Ten minste 700 wooneenhede in hierdie ontwikkeling is op deernisgevalle gemik, aldus raadsheer Levendal.
Die onbeskikbaarheid van geskikte huisvesting het ook vrae meegebring oor die munisipale behuisingswaglys.
Inwoners meen daar is 'n "onregverdige bevoordeling van diegene wat na Mosselbaai stroom". Hulle meen gebore Mosselbaaiers word nie dieselfde behandel as die sogenaamde inkommers nie.
Wyksraadslik Erica Meyer (middel) saam met raadslede Kannemeyer en Fortuin.
Twaalfde taal
"Moet ons ons ook tot die land se twaalfde taal wend? Moet ons ook brand stig en paaie versper, moet ons ander verontrief voor die owerhede na ons omsien? Die mense wat onlangs hier inkom kry huise, net om dit te verhuur en 'n inkomste daaruit te maak."
Sprekers het aangevoer dat hul bereidwilligheid om binne die raamwerk van die wet hul griewe te lug, hul tot nadeel strek omdat hul behoeftes nie aangespreek word nie.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, verduidelik dat die munisipaliteit 'n oopdeurbenadering volg en graag eerstehands oor diensleweringsprobleme in Wyk 9 ingelig wil word.
Deernishulp
"Die feit dat ek in 'n bungalow op my ma se erf bly benadeel haar aanspraak op deernishulp," het 'n vyftigjarige man aangevoer. Inwoners het gevra dat die munisipaliteit die deernisbeleid indringend moet hersien om voorsiening te maak vir armlastiges.
Beide die finansiële bestuurskonsultant, mnr Kobus Bruwer en raadsheer Levendal het die munisipaliteit se deernisbeleid in die fynste besonderhede verduidelik en inwoners genooi om munisipale kantore te besoek vir verdere klarigheid en aansoeke om hulp.
Die wyse waarop agterstallige skuld vir munisipale dienste van elektrisiteitsaankope verhaal word, is as onaanvaarbaar beskryf. Inwoners meen die renteheffings maak dit onmoontlik op uit die siklus van skuld te ontsnap.
Die munisipaliteit het verduidelik dat slegte skulde ingevorder moet word, en het inwoners genooi om die munisipale kantore te besoek om dié probleem individueel aan te spreek.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, lede van sy burgemeesterskomitee en direkteure luister aandagtig na driftige gesprekke tussen inwoners van Wyk 9.
Buitetoilette
Sterk pleidooie is gelewer vir die vervanging van buitetoilette by sommige huise in die buurt. "Dit is veral bejaardes wat steeds aan hierdie onaanvaarbare toestande blootgestel word. Hierdie bejaardes, word gemeen, loop onnodige risiko van misdadigheid net om 'n toilet te kan gebruik.
Daarmee saam is kwessies soos ontbossing, die gevaar van misdadigers wat in klowe om die area hul skuilhou, asook behoorlike beligting geopper as faktore wat tot misdadigheid in die gemeenskap bydra.
Gemoedere het by tye hoog geloop.
Jeug se probleme
Die sosio-ekonomiese omstandighede van inwoners in die wyk lei ook tot probleme vir die jeug. Die toestande van beide die sportstadion en gemeenskapsaal, asook die koste om hierdie fasiliteite te gebruik, maak dit glo onmoontlik vir die jeug om voordeel daaruit te trek.
"Ons benodig werkskeppingsgeleenthede vir die jongmense, ons moet hulle geriewe en geleenthede bied om nie in misdadigheid en dwelmafhanklikheid te verval nie. Jaar na jaar maak ons kinders matriek klaar sonder enige vooruitsigte op werk. Hulle raak mismoedig en opstandig." Sportontwikkeling word gesien as 'n manier om die jeug effektief te betrek en uit die "misdadigheidsverval te red".
Sprekers het kommer gelug oor die skynbare wetteloosheid van taxibestuurders en gevra dat strenger hierteen opgetree moet word. "D'Almeida se mense het gepraat, ons het geluister en gehoor," het raadsheer Levendal gesê ná 'n vergadering waar gemoedere by tye baie hoog geloop het.
Volgens die gemeenskap het heersende sosio-ekonomiese omstandighede 'n negatiewe impak op die jeug en veral werkskepping, maar ook dwelmmisbruik en misdaad moet dringend aangespreek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'