MOSSELBAAI NUUS - ANC hoofsweep in Mosselbaai se munisipale raad en nuutverkose streeksleier vir die party, raadslid Jovan Bruinders het tydens vandag se maandelikse raadsvergadering 'n dringende mosie gebring vir klarigheid oor vordering met planne vir die moontlike totstandkoming van 'n Metro-Raad vir die Suid-Kaap.
Die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee het breedvoerig reageer op vrae. Hy het verduidelik dat munisipaliteite nie sonder meer besluite kan neem sonder grondige navorsingsresultate wat die besluite moet lei nie.
"Die moontlike Metropool wat kan bestaan uit die Mosselbaai en George munisipaliteite word geruime tyd reeds en op verskeie vlakke bespreek. Die samestelling van só 'n metropool is 'n omslagtige proses en die verkennende gesprekke daaroor kan geensinds 'n invloed op die plaaslike owerheidsverkiesings van 2021 hê nie," aldus Adv Giliomee.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se besluit in Maart vanjaar was juis sodat die nodige navorsing gedoen kan word wat verkennende gesprekke oor die vorming van 'n metropool met George-munisipaliteit moet voorafgaan. "Munisipaliteite kan nie besluite van hierdie aard op emosie grond nie en moet navorsingsresultate bekom waarop besluite gegrond kan word. George munisipaliteit is versoek om dieselfde te doen maar het nog nie daartoe ingestem nie."
Hernude gesprekke word tussen die twee munisipaliteite se politieke leiers aangevra om die voor en nadele van die vorming van 'n metropool te ondersoek en navorsingsresultate te bespreek.
Daar is egter nog nie 'n konsultant deur óf Mosselbaai-, óf George munisipaliteit aangestel om met die proses behulpsaam te wees nie. George munisipaliteit het ook nog nie ingestem tot die aanstelling van 'n konsultant nie. Sodra 'n ondersoekverslag beskikbaar is, sal verdere terugvoer dus kan volg.
Die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee, (tweede van links) gee breedvoerig terugvoer op 'n dringende vraag van die hoofsweep van die ANC, raadslid Jovan Bruinders (regs) oor die moontlikheid dat 'n metro-munisipaliteit tot stand kan kom in die Suid-Kaap. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'