MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-tuinbouklub het tydens hulle maandelikse byeenkoms in Mei, op die pragtige proteaplaas Onverwacht van Pierre Vermaak aan die voet van Sleeping Beauty berg naby Riversdal gaan kuier.
Die plaas met sy mooi Kaaps-Hollandse huis, asemrowende uitsigte en pragtige proteas, was 'n belewenis. Pierre het meer oor die geskiedenis van die plaas vertel. Sy vader, Piet Vermaak was in 1963 een van die pioniers wat begin het om proteas te kweek. In 1979 het hy nog 5 000 hektaar grond bygekoop en verskaf werk aan 45 werkers deur die jaar.
Van die plaaswerkers werk al drie geslagte by hulle. Hulle plant proteas, maar ook loof wat dan die werkers deur die jaar besig hou. Hulle verskaf ruikers aan Woolworths, en voer ook blomme uit na die buiteland deur agente in die Kaap sowel as na Multi Flora in Johannesburg. Baie interessante feite wat Pierre genoem het, is dat baie van die proteas wat aangekoop word, van steggies gemaak word.
Die plant het dus net haarwortels en nie 'n penwortelstelsel nie. Dit is dan 'n swakker plant wat sy voeding oppervlakkig soek en ook baie maklik deur swamme en siektes aangeval word. Dit het ook 'n korter leeftyd, plus minus sewe jaar.
Hulle oes die proteas, saad word gedroog en dan weer op die lande gesaai, op die regte tyd. Die saadjie word net toegekrap en sodra dit reën ontkiem die saadjie. Hierna word 'n penwortel en sodoende 'n sterker plant gevorm wat 'n leeftyd van tot 20 jaar kan hê.
Die plaas het verlede jaar drie miljoen blomme geoes. Pierre werkers oes 1 000 – 3 000 proteas per dag as dit oestyd is. Hulle het Protea Repens in wit pienk en rooi en die blomme meng nie. Proteas en loof word ook gedroog en uitgevoer.
Die ruikers vir Woolworths word deur goedopgeleide vroue op die plaas gemaak. Antjie van Rooyen het demonstreer hoe sy die ruikers maak. Lede het deur die verpakkingstore gegaan en daarna het JJ de Kock van Tornadica ergonomiese tuingereedskap demonstreer in Pierre se groentetuin. Hierdie tuingereedskap is gemik op die ouergarde en vroue wat self tuinmaak.
Die ontwerp is sodanig dat jy nie hoef te buk nie en die gereedskap is baie lig. Defnitief 'n aanwins vir elke tuinier wat self tuinmaak. Dorothy van der Merwe het die uitlootplant gewen en Mimmi Butler en Annetjie Kunz, die gelukstrekkings.
Na die interessante uitstappie het die lede die Bali Trading-winkel buite Riversdal en die Tuinplaas-kwekery buite Albertinia besoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'