RIVERSDAL NUUS - Die Ou Tronk op Riversdal is beslis 'n besoek werd. Ervaar kultuur en geskiedenis, bederf jouself met ou-wêreldse bekoring, snuffelhoekies en heerlike eetgoed in die opelug restaurant.
Ontspan in die gesellige binnehof of stap deur die tronk met die destydse selle wat omskep en toegerus is met die mooiste handgemaakte artikels en produkte. Aan die stuur van sake is Louise
Malherbe, wat altyd gereed is vir 'n heerlike geselsie.
Die galgkamer, wat jare lank leeggestaan het, selfs in die tyd toe dit nog in gebruik was omdat gebruik gemaak was van 'n 'rondreisende' galg, het gedurende 2013 'n galg ryker geword. Malherbe het inligting ingesamel van hoe 'n galg en meer spesifiek, die soort wat kon opslaan en hulle daarmee kon reis, destyds gelyk het. Dié vertrek word om veiligheidsredes gesluit gehou.
Die enigste persoon wat ooit in die Ou Tronk opgehang is, was Gilbert Hay in 1899 wat sy ma vir drankgeld vermoor het deur haar met 'n hamer dood te slaan. 'n Afskrif van sy bekentenis is ook in die Ou Tronk te sien. Die galg moes toe van Swellendam na Riversdal op 'n wa vervoer word vir die teregstelling.
Die Ou Tronk is 'n gewilde kuierplek vir oud en jonk.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'