MOSSELBAAI NUUS - Die goeie opkoms van spelers, 15 spanne met 'n totaal van 45 spelers; let wel trips bestaan net uit drie spelers per span, het alle verwagtinge oortref.
Spelers sover as Bonnievale, Worcester, Ceres asook vanaf George, Hartenbos en Riversdal het eer kom betoon aan wyle Gielie Wessels wat gedurende die tydperk van die vervloë Suid-Westelike Distrikte diep spore op jukskeigebied getrap het.
Natuurlik het die weer nie net saam gespeel en 'n mooi dag verseker nie, maar het die hitte uitputtend ingewerk op jonk en veral die ouer garde.
Soveel so dat een persoon 'n aanval van hitteuitputting belewe het en vir 'n volle wedstryd op die kantlyn moes sit terwyl 'n plaasvervanger sy plek moes volstaan.
Daar is in drie afdelings meegeding. Omdat daar slegs drie inskrywings in die A-afdeling was, is die A- en B-afdelings in een groep georganiseer en was die kompetisie vir die B-afdelings uiters moeilik en senutergend.
Om in 'n hoër liga mee te ding verg geweldige inspanning en toewyding. Daarin het enkele spanne in die B-afdeling by uitstek goed gevaar.
Ander was minder gelukkig.
Veral Hartenbos se B-span bestaande uit Ewie Engelbrecht, Johan Brummer en Sydney Stopforth het hul goed van hul taak gekwyt en eerste in hul afdeling geëindig met 'n totaal van 12 punte bo heel naaste teenstanders en slegs agt punte minder as die wenners van die A-afdeling.
Die A-afdeling is gewen deur Worcester A met Louis Badenhorst, Dolf Barnard en Rian van der Walt met vyf punte bo hul teenstanders te wete BBF (Buks, Bossie en Fanie) asook die Visarende wat beide 52½ punte ingesamel het.
Uitslae
Die finale uitslae is soos volg:
A-afdeling:
Worcester (57); BBF (52½); Visrende (52½).
B-afdeling:
Hartenbos B (49½ ); Riversdal B1 (37½); Riversdal B2 (34); Worcester B (31½).
C-afdeling:
Riversdal (65½); Stilbaai C1 (65); Boggomsbaai (56); Hartenbos (51½); Stilbaai C2 (48½); Jongensfontein (47½); SMS (45); Smarties (40).
Pryse is toegeken aan die wenners van elke afdeling. Na afloop van die tripstoernooi is daar heerlik gesels en gekuier.
Môre, 18 November, word die ligaverpligtinge voortgesit en vind die wedstryde op die Hartenbos-jukskeiterrein plaas. Opening is om 08:00.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'