Gallery
MOSSEL BAY NEWS - 'Life is tough, my darling, but so are you'.
Dié woorde van Stephanie Bennett-Henry het gepryk op die geskenkpakkies wat vroue by Hoërskool Sao Bras se goedvoel-ontbyt ontvang het.
Die ontbyt, aangebied by Pinnacle Point se konferensie-fasiliteit met sy pragtige uitsig, was daarop gerig om vroue enersyds te bederf, andersyds te bemagtig en in die algemeen, te laat goedvoel.
En hiervoor het die gasspreker, radio-persoonlikheid Haidee Muller met haar innemende geaardheid by uitstek gesorg.
Haidee het onder meer gesels oor haar vriendin Tanya O'Connor, bekend vir haar inkleurboeke vir volwassenes.
Sy is ook die skrywer van die boekie Hallo Lewe, waarvan elke vrou 'n eksemplaar gekry het.
Radio-persoonlikheid, Haidee Muller (links) het die gehoor by Hoërskool Sao Bras se goedvoel-ontbyt trakteer met haar pittighede. Hier is sy saam met (van links) die programleier Claire du Plessis, die skoolhoof Chantal Briesies en Debbie Jeffrey, opvoeder aan die skool en 'n organiseerder van die ontbyt.
Met die voorlees uit die hoofstuk oor worry, het sy tereg gevra: "Hoekom worry ons so oor als?"
"My vriendin Tanya se altyd 'eers het my juwele MY gedra. Nou dra EK my juwele'," het sy vertel.
Haidee het aangehaal uit 'n paar boeke waaruit sy "woema vir die lewe put" soos dié van Kobus Neethling en Rachè Rutherford, Love, Sex and Your Brain, wat die verskille tussen mans en vroue pittig uitwys.
Vroue, meen Haidee moet egter foute en al, trots wees op hul vrouwees.
"Onthou, jou brein is jou kragstasie. Net jy het jou brein," het sy gesels uit Stefan Joubert se boek, Verander Jou Kop, Verander Jou Lewe.
Sy het vroue daaraan herinner dat die brein rekbaar, aanpasbaar en leerbaar is, dit word nie voorafvervaardig en by jou voordeur afgelewer nie.
"Jy is nie so gemaak en so laat staan nie. Dis 'n lewenslange uitdaging om jou kop in die regte rigting te laat groei. Jy moet jou gedagtes reg dink en jou emosies op die regte manier ervaar."
Haidee se kommentaar na afloop van die geleentheid was dat dit "prettig en sonder aansit" was.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'