MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit wil finansieel behoeftige studente en jongmense wat in die groter munisipale gebied woon nooi om aansoek te doen om finansiële ondersteuning vir voltydse studies vir die 2018 akademiese jaar.
Alle voorgraadse kursusse moet by 'n SAKO (SAQA) geakkrediteerde tersiëre of tegniese beroepsonderwys en -opleiding (TVET) instelling gevolg word.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, wil veral voornemende studente aanmoedig om die geleentheid aan te gryp en aansoek te doen vir 'n beurs om te studeer en 'n sukses daarvan te maak, sonder die bekommernis van studiegeld.
"Die jeug is ons toekoms en ons moet in hulle belê en die nodige ondersteuning bied sodat hulle 'n sukses van hul studies en toekoms kan maak.
"Wie weet, hierdie jeugdiges word nog die leiers van môre. Dan weet ons ten minste hulle is bevoeg vir die taak wat voor hulle lê.
"Onthou, jou opvoeding/geleerdheid is die een ding wat niemand ooit van jou kan wegvat nie, dis joune!"
Studierigtings
Aansoeke van studente wat studeer of beplan om voltyds te studeer in een van die volgende velde, sal oorweeg word:
- Publieke administrasie
- Finansies
- Menslike hulpbronne
- Elektriese ingenieurswese
- Siviele ingenieurswese
- Meganiese ingenieurswese
- Stads- en streekbeplanning
- Ekonomiese ontwikkeling
- Inligtingstegnologie
- Omgewingsgesondheid
- Enige ander munisipale verwante veld
Die beurs dek onder meer onderrig- en registrasiegelde, voorgeskrewe boeke en/of studiemateriaal.
Let wel studiegelde sal direk aan die onderwysinrigting betaal word by bewys van stawende dokumentasie deur gekeurde studente.
Aansoekvereistes
Aansoekvorms is beskikbaar op die webtuiste www.mosselbay.gov.za of by die munisipale kantoor by Marshstraat 101 en moet vergesel wees van gesertifiseerde afskrifte van:
- Graad 12 (matriek)-eksamenuitslae of mees onlangse akademiese rekord
- Getuigskrif van skoolhoof tydens graad 12
- Bewys van residensiële adres (munisipale rekening)
- Jongste salarisstrokie van ouer/s of voog
- Bewys van aansoek/registrasie/aanvaarding by 'n erkende en geakkrediteerde hoëronderwysinstelling
- Suid-Afrikaanse identiteitsdokument
Die sluitingsdatum vir alle aansoeke is 28 Oktober om 12:00.
Voltooide aansoekvorms kan gepos word aan:
Die Senior Bestuurder (Menslike hulpbronne), Posbus 25, Mosselbaai, 6500
Aansoekvorms kan ook per hand afgelewer word by die ontvangsarea van die Ou Kragstaasie-gebou, Munrostraat, Santosstrand
Navrae
Telefoniese navrae kan gerig word aan me N Jende (044 606 5158) of me N Constance (044 606 5092) gedurende kantoorure.
Dit sal van suksesvolle kandidate verwag word om 'n formele ooreenkoms aan te gaan.
Toekenning van eksterne beurse sal onderhewig wees aan die beskikbaarheid van fondse.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'