MOSSELBAAI NUUS - 'n Jeugdige is Donderdagaand omstreeks 21:40 in Floraweg, Danabaai aangekeer met vermoedelik gesteelde goedere in sy besit.
Volgens die KwaNonqaba-polisie het die man (18), 'n kilogram gevriesde groente en 'n wasgoeddroër in sy besit gehad.
Die polisie het op 'n oproep reageer toe die arrestasie uitgevoer is deur kst Andrew Khami.
Die verdagte is in April vanjaar in die Mosselbaai-landdroshof skuldig bevind op 'n klag van besit van gesteelde eiendom. Verskeie ander klagtes, waaronder diefstal, word by verskillende polisiestasies in Mosselbaai teen die jeugdige ondersoek.
"Die Danabaai-Buurtwag is deur 'n werknemer van die Caltex-vulstasie ingelig dat die jeugdige, wat daarvan verdink word dat hy vantevore motorbatterye in die omgewing gesteel het, in die omgewing opgemerk is.
"Die buurwaglede het onmiddellik ontplooi en die bosse rondom die vulstasie deursoek terwyl op lede van die KwaNonqaba-polisie gewag is.
"Die Buurtwaglede het die verdagte opgespoor en hom in besit betrap van vermoedelik gesteelde besittings," berig die voorsitter van die Danabaai-Buurtwag, Otto Ploog.
Die polisie en buurtwag maan weer eens die gemeenskap om te verseker dat hulle hul eiendom behoorlik beveilig.
Die regmatige eienaar van hierdie toerusting wat vermoedelik deur 'n jeugdige in Danabaai gesteel is, word versoek om die KwaNonqaba-polisie te kontak.
"Installeer 'n alarm en diefwering in u woning en maak dit so moeilik as moontlik vir geleentheidsmisdadigers om toegang tot u huis of motorhuis te bekom. In baie gevalle vind polisie dat toegang deur 'n oop venster of deur bekom is.
"Die gemeenskap word aangemoedig om hul buurtwag te ondersteun, betrokke te raak by hul gemeenskapspolisiëringsforum, en om groter verantwoordelikheid te neem vir hul eie veiligheid," maan die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sers Kapp.
Enige persoon wat die waarskynlik gesteelde eiendom kan identifiseer, of wat oor inligting oor die voorval beskik, word versoek om die ondersoekbeampte, sers Lindie van Loggerenberg (083 979 1982 of 044 606 5600) te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'