MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat reeds sewe jaar gevangenisstraf uitgedien het vir die verkragting van 'n sesjarige kind en tans op patrool is, het na bewering die afgelope naweek 'n tweejarige meisie van Mosselbaai verkrag.
Die 26-jarige verdagte is in 2009 in die Mosselbaai-streekhof skuldig bevind aan die verkragting van 'n sesjarige meisie. Dié verkragting het in KwaNonqaba plaasgevind.
Die verdagte is destyds 10 jaar gevangenisstraf opgelê en is na sewe jaar in die gevangenis, in 2016 op patrool vrygelaat. Die verdagte se parool verstryk eers in 2019.
Volgens die polisie het die jongste slagoffer op Vrydag, 14 Julie in 7de Laan gespeel toe die verdagte haar nader roep. Hy het haar daarna na bewering binne sy huis verkrag.
Die meisie woon saam met haar ouma en tannie. Haar ouers woon glo elders in die Oos-Kaap. Die slagoffertjie moes mediese behandeling by die Mosselbaai provinsiale hospitaal ontvang en is intussen weer in haar ouma se sorg gelaat.
Polisiebeamptes van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mosselbaai het die verdagte op Saterdag, 15 Julie by sy woning in hegtenis geneem. Die verdagte het op Maandag, 17 Julie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van verkragting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'