
Hulle glo dat die rivier Gihon, een van vier riviere wat uit die Tuin van Eden kom, deur Ethiopië vloei en dat dit 'n bewys is dat Ethiopië deel was van die Bybelse Eden. Volgens hulle het die hele vasteland van Afrika eens as Ethiopië bekend gestaan.
Marcus Garvey
In die 1920 het Marcus Garvey, 'n Jamaikaan van geboorte en stigter van die Universal Negro Improvement Association (UNIA), wêreldwyd aandag getrek met sy "terug na Afrika"-beweging vir swartmense. Garvey het swartmense aangemoedig om trots te wees op wie hulle is en selfstandig te raak van blanke heerskappy. Die ontstaan van die swartbewussynsbeweging en burgerlike versetbeweging in die VSA was direkte uitvloeisels van Garvey se werk. Tydens 'n toespraak het Garvey verklaar: "Kyk na Afrika, waar 'n swart koning gekroon sal word; Hy sal die Verlosser wees" .
Klassieke periode
In die tydperk tussen 1930 en die vroeë 1960's, bekend as die "klassieke periode", was die Rastafarianisme 'n Jamaikaanse godsdienstige beweging met min invloed van of na buite. Soos vandag steeds die geval is, het baie Rastafariërs buite die stede in kampies in die natuur gewoon onder gesag van 'n ouderling of "oudste".
Rastafarianisme vandag
Die meeste Rastafariërs is vandag nie baie gesteld op die fyner besonderhede van die leerstellings van hul geloof nie. Hulle glo in die basiese leerstellings van die Rastafarianisme, maar behoort nie noodwendig tot 'n besonderse, georganiseerde groep of orde nie.
Daar is na raming tans tussen 200 000 en 700 000 Rastafariërs wêreldwyd. Omdat Rastafariërs nie amptelike kerkgeboue of tempels het nie, daar nie 'n amptelike Rastafariër-publikasie of 'n amptelike organisasiestruktuur is nie, is dit moeilik om presies vas te stel hoe akkuraat hierdie syfer is. Die land met die grootste aantal Rastafariërs is Jamaika, waar sowat 100 000 van die ongeveer drie miljoen mense die Rastafariese geloof amptelik beoefen.
Bron: Wikipedia