'n Fout is nie noodwendig fataal nie

Benjamin Welman het 'n fout gemaak, maar gebruik dit vandag om sy lewe op 'n vaste spoor te leef. Foto: Cornelle Carstens.

MOSSELBAAI NUUS - Benjamin Welman (35) sê woorde het hom gemaak wat hy vandag is. Veral die Woord van God. Daarom is hy nie skaam vir sy lewensverhaal wat vir baie jare in die gevangenis gaan draai het nie.
 
Vandag, staan hy reeds vier jaar in verantwoordelike skoene as 'n werknemer van Mosselbaai Begrafnisdienste.
 
Sy werkgewer, Yolanda Dunkerley het hom baie bemoedig. So ook ander rolspelers wie se woorde hy waarlik ter harte geneem het.
 
Volgens Benjamin, maak baie manne wat in die tronk loop draai, daar 'n oorgawe aan Jesus en as hulle huis toe kom, gaan hierdie besluit eers deur die vuurproef. "Net soos in die tronk, wanneer jy sê jy is 'n brother en jy't jou bekeer, hou mense jou fyn dop of jy regtig ernstig daaroor is."
 
Benjamin het besluit om sy bekering en die struktuur wat hy in die tronk geleer het, op sy lewenspad vorentoe toe te pas. Ter wille van sy toekoms.
 
Hy't egter in die tronk al met oorgawe sy hart en sy lewe oopgestel vir die Evangelie. Met die deurloop van 'n pastoorskursus en gedagtig aan sy toekoms na die tronk, het hy die woord letterlik by die daad gevoeg en geleentheid gekry om in die tronk se binneplaas te preek. Soggens was sy gebedstyd van 06:30 tot 07:00.
 
"Ek het altyd hardop gebid en verwys na 'ons' sodat almal om my ingesluit kon voel. Dit het dinge in die sel ook begin verander."
 
Met sy tuiskoms, het hy besef dat hy nie ledig kan sit nie. Hy glo dat hy danksy die Here se guns gou werk gekry het, al was dit nie altyd standhoudend nie. "Mens moet maar die minste is om weer aan die gang te kom, want jy is die een wat die fout gemaak het."
 
Benjamin, hoewel hy 'n ambag het, het tot met 'n groentekarretjie gesmous totdat tuinwerk hom uiteindelik na sy huidige betrekking gelei het.
 
Nou kry hy van tyd tot tyd geleentheid om mense in hulle donkerste uur te bemoedig en te bedien. "Die dood, hy praat. Dit sit 'n stopteken in jou lewe. Die gemeenskap is stukkend en hulle kom nie tot inkeer nie voor dit te laat is nie."
 
Benjamin glo dat sy grootste oorwinning, oor homself was. "Ek het nie geweet ek kan al hierdie dinge doen nie. Ek was skaam om te praat en toe begin ek preek."
 
Hy is vasberade om te bly "in die dinge van die Here, want die Woord het hom die vorm gegee wat sy lewe moet aanneem". Hy haal aan uit Ps 91 gememoriseer. "Dit sê dat mense moet skuil in die skadu van die Allerhoogste. Skaduwee kan mens nie leed aandoen nie en tog skuil weinig mense daar."
 
"Dis nie altyd maklik om 'n kans te vat met iemand wat 'n fout gemaak het nie, maar selfs as dit een mens kan help, soos in Benjamin se geval, is dit alles moeite werd," meen Yolanda.
 
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus' 


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser