Opvolg: Inisiatief om selfoondiewe te stuit

Die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerard Jantjies vra ouers om hul kinders te waarsku om nie só op hul selfone ingestel te wees dat hulle sagte teikens vir misdadigheid word nie.

MOSSELBAAI NUUS - Die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerard Jantjies, het vandeesweek 'n nuwe inisiatief geloods om selfoondiefstal te ontmoedig.
 
Hy het opdrag gegee dat elke polisiestasie in die groter Mosselbaai-area voortaan die slagoffers van selfoondiefstal of van ander elektroniese apparaat wat van 'n SIM-kaart afhanklik is, sal bystaan om te verseker dat hul handstuk en SIM-kaart behoorlik deur die relevante verskaffer op 'n swartlys geplaas word sodat dit van geen waarde op die sluikhandelmark sal wees nie.
 
"Selfone word maklik geroof en selfone verhandel baie maklik. Deesdae hoor 'n mens nie meer dat iemand se horlosie of juwele gesteel word nie, maar daagliks word selfoondiefstal of selfs selfoonroof baie gereeld by polisiestasies in die groter Mosselbaai-area aangemeld," aldus brig Jantjies.
 
"Die misdaadslagoffers sal voortaan by die onderskeie polisiestasies se dienssentrums gehelp word om die relevante diensverskaffer te kontak en onmiddellik die selfoon of rekenaartablet te swartlys. 'n Slagoffer wat reeds deur gebeure getraumatiseer is, moet so goed moontlik bygestaan word om seker te maak die hardeware word onbruikbaar gemaak sodat daar nie verder 'n mark daarvoor is nie."
 
Die brigadier maan selfooneienaars om hul instrument se unieke IMEI-nommer altyd veilig te bewaar sodat dit gebruik kan word om dit te swartlys. Handstukke wat geswartlys is, word nutteloos.
 
Hou IMEI veilig
Skakel *#06# om 'n selfoon se IMEI-nommer vas te stel. Skryf hierdie nommer af en hou dit op 'n veilige plek soos op google drive of 'n ander kuberargief. Die nommer kan ook gebruik word om 'n selfoon aanlyn te swartlys.
 
"Ouers moet ook hul kinders waarsku teen die oormatige gebruik van selfone in die openbaar. Kinders wat só fokus op hul selfoonskerm dat hulle strate kruis sonder om op te let na aankomende verkeer is 'n gevaar vir almal. Kinders wat met oorfone in hul selfone loop, sluit hulself af van wat om hulle aangaan en word maklike teikens vir misdaad," maan die brigadier.
 
Enige persoon wat 'n gebruikte selfoon of tablet koop, word ook aangeraai om die foon se IMEI te laat nagaan op enige van die webwerwe wat die diens gratis lewer.
 
Boonop voel brig Jantjies so ernstig oor die inisiatief dat die polisie slagoffers behulpsaam moet wees, dat hy die publiek nooi om 'n whatsapp met detail na óf hom (082 496 3360) of kol Una Saayman (082 778 6790) te stuur as hulle enigsins probleme by polisiestasies ervaar wanneer selfoondiefstalklagtes aangemeld word.
 
Gee jou opinie hieroor op ons meningspyling op ons webtuiste. 
 
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser