Saak teen vermeende brandstigter uitgestel

Generiese foto.

MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sersant Kapp, het vandeesweek bevestig dat 'n 38-jarige man van Aslapark op Dinsdag in die Mosselbaai Landdroshof verskyn het nadat beweer is dat hy aandadig was aan die brande wat in en om Danabaai gewoed het.
 
Die man is deur 'n munisipale verkeersbeampte gearresteer nadat buurtwaglede op 31 Desember alarm gemaak en beweer het dat die man op heterdaad betrap is in 'n area teenoorgesteld van waar die vuur op daardie stadium gewoed het.
 
Die Danabaai Buurtwag het die hulp van die verkeersbeampte ingeroep om die arrestasie uit te voer. Die man is by die KwaNonqaba-polisie aangekla en was sedertdien by die Da Gamaskop-polisiestasie aangehou.
 
Op sosiale media het dit sedert die arrestasie gegons dat dit onwaarskynlik is dat die beskuldigde wel die brand gestig het, en vrae is ook oor sy toerekeningsvatbaarheid geopper.
 
Volgens terugvoer is die beskuldigde deur die staatsaanklaer, me Zandi Hobongwana, ingevolge 'n munisipale verordening aangekla. Landdros Clifton Maseti, die voorsittende beampte, het die saak tot 11 Januarie uitgestel sodat regshulp gefinaliseer kan word.
 
Dinsdagmiddag, pas nadat die beskuldigde in die hof verskyn het, het die publiek 'n man, geklee in ooreenstemmende klere as wat die beskuldigde tydens die arrestasie gedra het, op 'n straathoek in Louis Fourieweg opgemerk waar hy vriendelik vir verbygaande verkeer gewaai het.
 
 
Volgens 'n Whatsapp deur lede van die Danabaai Buurtwag is 'n verdagte wat met die brande in die Danabaai-omgewing verbind is, 'redhanded gevang'. Hy is in hegtenis geneem. Die man het Dinsdagoggend in die hof verskyn en die saak is uitgestel. Vermoedelik dieselfde man is later Dinsdag op Louis Fourieweg opgemerk waar hy oudergewoonte vir verbygaande verkeer gewaai het.
 
Klik hier vir vorige artikels:
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser