Skrywers geslyp in die kuns om treffend te skryf

Swaargewigte in Afrikaanse literatuur, professore Bernard Odendaal (links) en Hans du Plessis (regs) was Saterdag op hul stukke by die ATKV Skryfskool wat aangebied is in samewerking met Christo Jordaan van die George Skrywersgilde. Foto's: Pauline Lourens

SUID-KAAP NUUS - Op literêre gebied beleef die Afrikaanse taal tans 'n opwindende tydperk. Die verkope van Suid-Afrikaans gepubliseerde boeke het meer as verdubbel vanaf 2004 (1,5 miljoen verkope) tot 2014 (3,6-miljoen).
 
In dieselfde tydperk het die aantal Suid-Afrikaanse gepubliseerde boektitels vanaf 9 000 na 16 000 boektitels gestyg.
 
Van hierdie getalle Suid-Afrikaans vervaardigde boeke het die proporsie in Afrikaans gestyg van 25 tot 45%. Prof. Bernard Odendaal, verbonde aan die Noordwes Universiteit, het Saterdag tydens die ATKV Skryfskool gesê hy is opgewonde oor die opbloei in Afrikaanse literatuur.
 
Kursusgangers het heelwat stof tot nadenke gekry tydens die dagkursus in verhaalkuns met die klem op begrip van die skryfproses en die wisselwerking tussen die elemente waaruit 'n treffende verhaal opgebou word. Professore Odendaal en Hans du Plessis het die elementêre, maar uiters belangrike kernfaktore van die verhaalkuns oorgedra. Handige wenke oor hoe om die manuskrip in die regte formaat aan te bied by die uitgewers is ook beklemtoon.
 
Beide is bekroonde skrywers en swaargewigte in die Afrikaanse taalgemeenskap en hulle het hul bereidwilligheid as aanbieders van toekomstige slypskole herhaal. Bernard Odendaal se digbundel, Onbedoelde land, was in 2007 op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.
 
As literêre kritikus en hoogleraar in skryfkuns by Noordwes Universiteit, is hy 'n gesogte spreker by nasionale en internasionale kongresse en simposiums. Later vanjaar sien 'n bundel essays van hom by Naledi-uitgewers die lig, wat gebaseer is op rubrieke en opstelle wat die afgelope vier jaar in koerante en tydskrifte verskyn het.
 
Hans du Plessis is die skrywer van ses digbundels, drie jeugromans en ses romans met talle nasionale bekronings waaronder die CBSA-prys vir die beste publikasie, algemene Christelike literatuur en 'n erepenning van die SA Akademie. Sy sewende roman, Tussen die klippe, verskyn binnekort op die rakke.
 
As jy graag 'n skrywer wil word, is dit belangrik om elke dag te skryf om in oefening te kom, het die professore aangeraai. Christo en Linda Jordaan (sowel as Betsie Jordaan wat die lekker verversings behartig het) is bedank vir hulle reëlings om die skryfskool in George aangebied te kry.
 
Dit is deel van 'n inisiatief van die Suid-Kaap Skrywersgilde. Christo is die sameroeper en lesers kan hom by 082 296 2883 of chrislin@mailbox.co.za kontak om by die gilde aan te sluit.
 
ARTICLE AND PHOTO: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD JOURNALIST
 
'We bring you the latest Garden Route, Klein Karoo, Hessequa news'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser